Wat drie ander twaalfjarige koshuislaaities my geleer het oor vrees, moed, trots en broederskap en hoe wen nie wen is as jy wie jy is verloor nie.
Ek was twaalf toe ek by Morgenzon se plaasskool en seunskoshuis aangekom het.
Ek was eers bang, maar baie gou in my element. Die deel van my kinderlewe was ongelooflik.
Ek het daar geleer ek was mal oor seunsgoed. Rugby. Kompetisie. Stoei. Avontuur. Kaalgat met seep conveyor belt slide tot in die dam. Mekaar uit te daag en dinge aan te vang wat vir twaalfjarige seuns volkome sin maak, maar vir enige verantwoordelike volwassene dalk rede tot kommer sou wees. π€£
Ek was lief daarvoor om 'n seun te wees.
En koshuis? 'n Hele wêreld vol ander seuns, maats, sport en ja... bed opmaak en inspeksie asof ons in die army was. Klomp reëls wat getoets moes word, en net genoeg toesig dat ons hopelik almal lewendig huis toe sou gaan. Ons was ook nog gedonder met 'n rottang as dit nodig was. En dit was soms nodig. Maar dit selfs was 'n moerse jol en nie iets wat 'n seun ooit self deur moes gaan nie. Dit was 'n saamding.
Twaalfjarige seuns is 'n vreemde spesie jong.
Jy is nie meer heeltemal ’n kind nie, maar jy het ook nog nie die vaagste benul hoe om ’n man te wees nie. Jou stem begin sy eie besluite neem, en jy weet nooit wat gaan uitkom wanneer jy jou mond oopmaak nie. En in ’n seunskoshuis bestaan daar nie iets soos geheime of privaatheid nie. Ons het eerstehands gesien hoe party ouens oornag grootword, terwyl ander nog geduldig wag dat hulle lywe die memo kry. Intussen hardloop almal se hormone rond sonder enige duidelike plan.
Maar ons almal het probeer dieselfde ding uitwerk: Waar pas ek in?
Ons was oud genoeg om te dink ons weet nogal baie. En jonk genoeg om bitter min te weet.
Maar kom ek begin by my eerste amptelike skooldag.
Dit was ook die dag toe ek my eerste groot liefde raakgesien het.
En amper my hele reputasie verloor het.
Haar naam was Anneline.
Sy was 'n onderwyser se dogter, gewild, en volgens my twaalfjarige oordeel die mooiste meisie wat nog tot en met daai tyd gesien het.
Ek was verlief.
Of so verlief as wat 'n twaalfjarige seun met 'n stem wat nog nie sy finale weergawe gekies het nie, kan wees.
Daar was net een probleem.
'n Ander seun het ook van Anneline gehou. En hy het gehoor ek hou van haar.
Nou kyk, ek weet nie wat hy gedink het ek beplan nie. Ek het self nie eens geweet wat 'n mens ná die verliefraakgedeelte veronderstel is om te doen nie. Maar vir hom was ek klaarblyklik kompetisie. En ons moes fight.
Hy was 'n dagskolier, 'n ryk kind. Een van daardie kinders wat ná skool huis toe kon gaan. Ouers, 'n eie bed, en 'n yskas wat hy sommer kon oopmaak wanneer hy lus was. As 'n seun kan ek onthou ek was altyd honger. π
Ons was die koshuisbrakke. Die verlore seuns.
En ek was die nuwe een.
Daardie eerste pouse kom hy reguit na my toe en stamp my.
Ek stamp toe terug.
Ek was nie 'n bakleier nie. Maar ek het ook geweet jy staan jou man, anders gaan iemand net aanhou om jou rond te stoot.
Hy stamp my toe weer.
En op presies daai oomblik besluit my neus om 'n openbare verklaring uit te reik.
Bloed. Baie bloed.
Ek weet tot vandag toe nie of dit die stamp, die hitte of die droë Morgenzon-lug was nie. Maar my neus het besluit hierdie nuwe skooljaar kort 'n dramatiese opening.
Daar staan ek voor die ander kinders. Die nuwe ou. Met bloed wat uit my neus loop oor my hemp. En so het ek heeldag rondgeloop.
En my mededinger lyk of hy so pas die wêreldtitel gewen het.
My reputasie was daarmee heen voordat ek behoorlik een gehad het en dit met 'n stamp. Eish... wat 'n belowende begin.
Intussen het ek drie ander seuns leer ken.
Ian. Ciryl. En Dian.
Ons was al vier nuut op Morgenzon. Vier vreemdelinge, twaalf jaar oud, besig om ons voete in 'n nuwe wêreld te vind.
Ons het nader aan mekaar begin groei. En soos seuns maar maak, het ons mekaar getoets.
Wie hardloop die vinnigste? Wie is die sterkste? Wie vat 'n uitdaging eerste aan? Wie gaan iets stout eerste doen, en wie gaan dom genoeg wees om saam te gaan?
Iewers tussen die gelag en grootpratery moes ons seker ook uitwerk wie die alfa in die trop is.
Ons het dit nie so genoem nie. Ons was twaalf. Ons was net pêlle.
Dian was die wildcard.
Groter as al die ander seuns in standerd vyf en meeste van die seuns in standerd ses ook. En sterker. Party van die ouer seuns was selfs versigtig vir hom. Hy het 'n humeur gehad wat jy nie maklik kon miskyk nie.
Ons was nog besig om ons plekke tussen mekaar te vind.
En toe sê ek iets onsensitief teenoor hom.
Wat presies, kan ek nie onthou nie.
Maar ek weet dit het Dian se trots gekrenk. En dit voor die ander seuns. Ek weet ek het 'n joke te ver gevat.
En ek was verkeerd om dit te doen.
Hy het rooi geword. 'n Skakering rooi wat ek nog nooit op 'n mens gesien het nie.
En ja... dit was duidelik. Ons gaan baklei.
Jy moet verstaan: ek het skaars herstel van die bloedneus-debakel.
En nou moes ek teen 'n ou baklei wat groter en sterker as ek was.
Ek was bang.
Nie regtig vir seerkry nie.
Vir verloor.
Vir daardie gevoel wanneer almal kyk en jy wens die grond wil jou insluk. Om op die grond te lê vernederd voor al daai seuns.
Dis vreemd hoe groot die opinie van ander twaalfjarige seuns vir jou kan voel. Hulle is jou wêreld. Jou gehoor. Jou beoordelaars. Jou broers
En ek was op die punt om voor daardie hele wêreld op my donner te kry.
Daai middag stap Dian ná skool by die laerskoolkoshuis in terwyl ek op pad uit is.
Hy kyk na my en sê: nou baklei ons.
Ek kon nie 'n uitweg sien nie. En ek gaan nie van 'n fight af hardloop nie.
So ek sê: Reg. Kom ons baklei.
En toe versprei die nuus binne minute.
Twee laaities gaan mekaar moer! Kom kyk!
Seuns begin saamdrom. Laerskoolseuns en hoërskoolseuns. Die voorportaal word vol. Dit het gevoel of daar minstens honderd van hulle was.
Jy sou sweer iemand het kaartjies verkoop.
Intussen wou ek net graag met al my tande én 'n klein bietjie waardigheid daar wegkom as God dit sou goed sien.
Dian was weer daardie spesiale skakering rooi.
En ek? Ek was steeds bang. Maar het dit weggesteek.
Maar die geveg was nou hier. Ons gaan rol.
Dian kom op my af. Sy vuiste vlieg.
Hy is sterk, maar hy is woedend. Hy slaan wild. Meeste van die houe mis en meeste van myne was raak.
En iewers tussen die vuiste en die lawaai besef ek iets.
Dalk net staan ek 'n kans.
Ek kan nie sy grootte verander nie. Ek kan nie sy woede beheer nie. Maar ek kan probeer helder bly dink.
Toe ek ophou dink aan hoe verskriklik dit gaan wees om te verloor, kon ek konsentreer op wat werklik gebeur en kop hou.
Uiteindelik beland ons op die grond, aan die stoei.
En ek kry dit reg om hom vas te pen met my knie in sy rug.
Daar lê ons.
Dian met sy gesig na onder. Ek bo op hom, hou altwee sy arms agter sy rug vas met my knie in sy lae rug. Hy kon nie beweeg nie
Die ou wat my so bang gemaak het, kan nou nie loskom nie.
Ek onthou dat hy begin huil het. En ek onthou ook hoe ek dadelik besef hoe hy nou als waarvoor ek so bang was gaan moet trotseer na die fight.
Ons was twee kinders. Twee seuns wat 'n saak van trots heeltemal handuit laat ruk het. Ek wou nooit hom regtig seergemaak het of verneder het nie.
Ek fluister vir hom sodat net hy dit hoor. As jy nou ophou, sal ek jou nie verder seermaak nie. En ons kan dit los.
Hy het saggies ingestem tussen die trane sodat net ek dit kon hoor. Almal wou gehad het ons moet nog baklei, maar ons het mekaar gesien. Dit was genoeg.
Die geveg was verby. Ek het hom gelos en hy het opgestaan, ek het hom gedruk en jammer gesê, hy het my teruggedruk en ook jammer gesê.
Iets anders het daardie dag gebeur wat ek eers baie later ten volle sou verstaan en waardeer.
Ek het vir Dian om verskoning gevra.
Ek het geweet ek het eerste verkeerd opgetree. Ek het hom voor die ander seuns gekrenk, en ek moes verantwoordelikheid daarvoor neem.
Ek het my man gestaan. Maar ook toe dit saak maak my trots gesluk en sag geword teenoor hom en hy teenoor my.
En weet jy wat?
Ons het beste pêlle geword van daai oomblik af.
Regte pêlle.
Ian. Ciryl. Dian. Ek.
Die vier Musketeers, soos hulle ons genoem het.
Nou, as jy in my generasie grootgeword het, onthou jy seker Brakanjan. Ek het myself natuurlik altyd gesien as Brakanjan. Maar noudat ek gay is, begin ek wonder of ek nie dalk al die tyd Aramis was nie! π€£
Ons het als saam gedoen. Rugby gespeel, avonture gaan soek na ure by die koshuis en alledaagse lewe van die koshuis aangepak. Saam as seuns begin en jong mans geword.
En dis die deel wat ek graag wil hê jy moet onthou.
Nie net die twee laaities wat mekaar voor 'n hele koshuis gemoer het nie.
Maar die vier seuns wat daarna aan dieselfde kant gestaan het.
Die gevoel dat jy aan iets behoort. Dat daar ander seuns is wat jou ken, saam met jou lag, jou uitdaag en ook jou broers is wanneer die dag verby is.
Ek het seunwees liefgehad.
Die koshuis, die sport, die kompetisie tussen al die seuns, die avonture, die kameraadskap en natuurlik die kak maak en pak kry ook.
Morgenzon was een van die beste tye van my kinderjare.
En Anneline?
Ag, ek weet jy wonder.
Ek het haar uiteindelik na die Valentynsbal genooi en sy het ja gesê. Can you believe!
So tussen al die bloed, hormone, vuiste en koshuispolitiek het die nuwe laaitie darem ook 'n date gekry.
Ek het die mooiste meisie na die bal geneem.
En ek het drie broers gekry.
Nie sleg vir 'n ou wie se neus op dag een besluit het om hom in die steek te laat nie.
Ek is vandag 41.
En wanneer ek aan daardie vier seuns dink, raak ek sommer weer lief vir daardie tyd van my lewe.
Miskien herken jy iets van jou eie kinderdae hierin.
Daardie een vriend saam met wie jy alles aangepak het. Die ou wat jou uitgedaag het. Die rugby. Die kompetisie. Die meisie of ou op wie jy so verskriklik verlief was dat jy skaars 'n sin kon uitkry.
Die behoefte om in te pas en tog jou eie plek te maak.
Ons lag vandag oor hoe ernstig ons onsself op twaalf opgeneem het.
Maar die gevoelens was werklik.
Die vrees vir vernedering. Die hunkering na aanvaarding. Die behoefte om sterk te wees, en die selfs groter behoefte om te weet iemand staan aan jou kant.
En ek dink nie daardie seun verdwyn heeltemal wanneer ons mans word nie.
Ons kry net duurder verantwoordelikhede en ander dinge waaroor ons soms bang is.
Nou is dit dalk 'n moeilike gesprek met jou vrou. 'n Besluit oor jou werk. 'n Huwelik wat sukkel. Jou gesondheid. Of die ongemaklike waarheid dat jy nie gelukkig is met die lewe wat jy gebou het nie.
Die vrees om te verloor is steeds daar. Die vrees of jy genoeg is.
Net soos die versoeking om weg te hardloop. Of kwaad te word. Of iemand anders klein te maak sodat jy groter kan voel.
Ek het met die jare geleer dat jy jou verhouding met vrees moet leer ken en verander.
Want as jy net dinge doen waarvoor jy nie bang is nie, word jou lewe mettertyd bitter klein my ou.
Moed is nie om niks te voel nie. Dis om jou kop te hou wanneer jy baie voel, en steeds te doen wat reg en nodig is.
Dit beteken nie jy moet elke geveg aanvaar nie. As ek vandag terug kon gaan, sou ek waarskynlik vir daardie twee laaities gesê het om hulle nonsens uit te praat. Maar dit sou nie gehelp het nie, en hulle sou nie die ongelooflike lesse geleer het, die liefde en broederskap ervaar het nie.
En jy kan nie 'n moeilike oomblik terugdraai nie. Jy kan leer uit wat gebeur het.
Ek hou steeds van wen.
Ek was as seun mal oor kompetisie, en ek is vandag nog lief vir groot doelwitte, harde werk en die bevrediging daarvan om iets moeiliks reg te kry en te bou.
Maar ek stel al minder belang in 'n oorwinning wat my kos wat eintlik vir my die belangrikste is.
'n Man kan 'n argument wen en sy vrou se vertroue verloor.
Hy kan sy ego beskerm en 'n vriendskap vernietig.
Hy kan sterk lyk en tog bang wees om te sê: Ek was verkeerd. Ek is jammer. Ek weet nie. Ek is bang. Ek is onseker.
Dian se woede het hom daardie dag die geveg gekos. My eie mond het dit te begin. Nie een van ons was die wyse volwassene in daardie voorportaal nie.
Maar toe ons ophou baklei, kon ons iets anders doen.
Ons kon mekaar sien. En ek kon sien hy was eintlik net so bang vir my en vir vernedering.
Ek wou hom nooit verneder nie. Hy het die geveg gelos. Ek het my aandeel erken.
Geen woorde was ooit weer nodig nie.
Die geveg het my respek gegee. Die druk na die geveg, het ons broers gemaak.
Ek wil 'n man wees wat moeilike dinge aanpak, maar wat ook weet wanneer om op te hou veg en toe te laat dat liefde oorvat.
Wat die moed het om sy man te staan én die nederigheid om ook jammer te sê.
Wat kan wen sonder om van elke ander man 'n verloorder te maak.
Want ek wil nie net die geveg wen nie.
Ek wil 'n lewe hê wat die moeite werd is om te leef.
Vier twaalfjarige seuns wat aan die begin van 'n skooljaar vreemdelinge was.
Vier Musketeers wat saam als saam gedoen het en 'n regte stukkie lewe gedeel het.
Wanneer ek vandag aan Ian, Ciryl en Dian dink, sien ek ons steeds as daardie laaities. Nie as mans met werk, verantwoordelikhede en lewens wat sekerlik elkeen sy eie draaie geloop het nie.
Net vier seuns.
En ek is dankbaar dat ek een van hulle kon wees.
Ek is onverwags oornag uit die koshuis uit, en het nooit totsiens gesê of hulle ooit weer gesien nie.
Dian, as jy hierdie ooit lees, my ou maat, maak kontak. Ek weet steeds nie presies wat ek destyds vir jou gesê het wat jou so kwaad kon maak nie, maar ek is jammer ou. π
Ian en Ciryl, ek hoop die lewe behandel julle goed.
EN VIR JOU wat hier lees: ek hoop jy het ook sulke herinneringe. Ek hoop daar is nog iets van daardie seun in jou. Sy nuuskierigheid, sy lus vir avontuur, sy bereidheid om te probeer, en sy vermoë om met sy hele hart vir 'n vriend lief te wees en ander seuns van vernedering te probeer spaar.
Moenie daardie dele van jouself verloor terwyl jy besig is om 'n man te wees nie.
Daar sal nog dinge wees wat jou bang maak. Uitdagings wat jou toets. Oomblikke waarin jou trots en jou waardes nie dieselfde antwoord gee nie.
Staan jou man wanneer dit nodig is.
Hou jou kop.
Erken wanneer jy verkeerd is.
En onthou om ook te kyk wie langs jou staan wanneer die kak die fan strike.
Daardie dag in die voorportaal op Morgenzon het ek gedink ek baklei vir my reputasie en toekoms in die koshuis.
Ek het nie geweet ek is besig om een van my beste vriende en lesse van my lewe te leer nie. Ons almal is bang. Maar ons kan ook hand vat en saam stap.
Ná ons mekaar gemoer het, was ons broers.
En van alles wat ek daardie dag kon wen, was dit die mooiste deel.
Jou broer en vriend, Jacque Visagie
50% Complete
Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit, sed do eiusmod tempor incididunt ut labore et dolore magna aliqua.